

2025
Boodskappe gedurende die verloop van die jaar
My dierbare kind ...
​​
Glo jy My? - 9 Desember 2025
​
My kind, ek hou jou vas en sal jou nooit los nie. Jy is beskermd en versorg naby My. Dit is die begeerte van My hart, dat jy My wil vir jou lewe, met oorgawe en opgewondenheid sal doen. Ek wil dat jy uitsien om die pad saam met My te stap. Soveel van My kinders is bang om hulself aan My oor te gee... om hul eie begeertes en lewensdrome neer te lê en Myne, met ywer vir hulle lewe op te neem. Hulle dink My pad en plan vir hulle lewens is sonder vreugde en opwinding, maar hulle ken My nie. My wil en doel vir elke kind van My is suiwer en rein. Ek wil vir elkeen wat kies om saam met My te wandel, 'n toekoms van suiwere opwinding en 'n vooruitsig van bo-natuurlike vrede gee - as jy dit net sal glo. My motiewe is versadig met My liefde. Sal jy My aanneem en My wil vir jou lewe jou eie maak en daarvanuit My volg?
My intensie met My kinders is opreg. Ek wil hê dat jy 'n lewe van oorvloed sal geniet op aarde, daarom vra Ek jou om van nou af, nie harder en meer te 'probeer' om dit self te bereik nie, maar om oor te gee en te bid dat My Goeie Plan vir jou lewe sal geskied. My verborge Plan met jou lewe, (dit wat Ek vir jou beplan het van voor die grondlegging van die aarde af), is 'n ewigheidsplan van liefde en vrede. Begeer jy vrede in jou hart? Smag jy na diepe rus en harmonie, na balans in jou dag-tot-dag se handel en wandel? Lê jouself dan voor My neer: jou bekommernisse, jou begeertes, jou drome en jou tyd, want wanneer jy na My draai in jou hart en gedagtes, erken jy My as Herder. Ek is 'n goeie Herder - glo jy dit? Glo jy wat My Woord alles oor My sê? Lees jy gereeld My Woord, sodat jy My beter kan leer ken en My so makliker sal vertrou om jou te help?
​
Al wat Ek begeer is dat jy My sal ken. In en deur hierdie proses, sal jy My meer vertrou en begin toelaat om in oorgawe jou te help met jou lewe. Die vraag wat Ek jou in alle eenvoud vandag vra is: sal jy My meer deelmaak van jou lewe van vandag af? Sal jy My toelaat om uur-vir-uur, die klein dingetjies van jou hart en lewe te verander, sodat jou lewe ook een van oorvloed, vreugde en vrede sal wees?
​
Stop jou malle gejaag en draai telkens deur jou dag na My. Dit kan vir jou menslik voel soos 'n op-onthoud, maar toets My. Toets My in jou draaie na My in opregtheid - as jy na My nader, sal Ek na jou draai en jy sal My ontmoet en sien, want Ek lewe. Ek het opgestaan.
Wil jy My sien? Glo jy dat Ek lewe?
​
Jou geloof is kosbaarder as goud - bewaar dit, versterk dit en leef oortuigend daarvanuit.
​
Jy is vir my kosbaar. Neem My Woorde vandag ter harte - Jesus.
​
Ek sien jou raak - 6 Oktober 2025
​
My liewe kind, jou lewe is vir my belangrik. Wat jy elke dag doen, sien ek raak. Laat jou lewe en alles wat jy doen, 'n offer wees tot My. Doen alles biddend. Volhard in jou geloof. Hou aan om te hoop in dit wat Ek jou belowe in My Woord, selfs al weet jy nie hoe alles sal uitwerk nie. Breek 'n pad oop vir My Koninkryk om te kom op aarde. Gehoorsaam My stil Stem in jou hart. Vra My as jy twyfel. Roep my aan wanneer jy vashaak - Ek is naby. Laat My Gees jou lei en leer. Stap jou pad met doelbewuste soeke na My wil vir jou. Bemoedig ander en versterk hulle met jou geloof. Herhinner ander wie Ek is, maar ook wie Ek IN hulle is. Niks is vir My onmoontlik nie. Leer mense My onkeerbare vermoë om lief te hê oor die wat goed doen asook oor die wat soekend op die verkeerde pad volhard. Seen hulle en bid vir hulle.
Ek is lankmoedig en vol liefde, geduldig en genadig. My ewebeeld bestaan nie... Ek staan alleen. Wie na My kom, sal Ek nie weg-wys nie. Die wat My soek sal nie teleurgestel word nie. My Woord staan vas, My beloftes vir ewig. My Naam staan hoog bo enige ander Naam.
Kom daarom na My, wys ander na My. My liefde vergaan nooit en het geen einde nie. Kom My kind, kom, want aan jou wil Ek My liefde bewys. Aan jou wil Ek myself openbaar. Leer van My en beweeg IN en deur My. Ons is een deur My Seun, daarom: rus in die wete dat Ek jou raakien en jou vashou. In tyd sal Ek Myself aan jou openbaar en aan jou uitkoms gee.
Vertrou My. Ek is jou God, jou Vader en jou Beskermer.
Abba
​
Bome van geloof - 15 September 2025
​
My kind, jou hart lê oop voor My. Ek sien jou diepste wese. Ek sal jou help en gegelei op die pad van geregtigheid. Lê jouself voor My neer en vertrou My. Hou vas aan My beloftes van hoop en Ek sal aan jou Myself openbaar. Bewaar jou geloof. Vorhard in jou geloof. Voed jou geloof in My.
Jou geloof in My is kosbaarder as goud. In jou geloof lê sleutels om te verkry wat fisies onmoonlik is. Geen harde werk kan veroorsaak dat jy dit wat ek in en deur jou geloof kan verkry, vergelyk nie. My Gees sien waar geloof in harte lê. Ek sien geloof soos 'n boom in die gees. Groot en duidelik sien Ek die wat onwrikbaar in My geanker is en welig groei. Sommige geloofsbome is nog baie jong en hul takkies is nog sag, maar ander is sterk, gevestig, reg vir enige stormwind van beproewing. Groei daarom in jou geloof in My. Leer om My te vertrou - blindelings. Vra in gebed wat jy benodig en kortkom en weet dat Ek jou sien en hoor en glo dat Ek jou sal help.
​
Ek is getrou. Ek is God. Niemand kan met My vergelyk word nie. Geloof is om seker te wees van dit wat jy hoop en oortuig te wees van dit wat jy nog nie kan sien nie.
Vra My, Ek is daartoe in staat om jou geloof te beantwoord.
Vertrou jy My blindelings?
​
Laat My toe... 23 Julie 2025
​
My kind, jou gebed en uitroepe bereik My in Hemelse plekke. Jou hart se melodie is voor My in kleur en as 'n aangename offer-geur. Die lofprysing wat vanuit jou borrel, beriek My troon. Vul jou voortdurend met My Woord. Stig jou in jou geloof. Laat My Gees jou lei, rig en onderrig, want jy het Hom nodig. Hy is aan jou geskenk - gegee, sodat jy My volheid en heerlikheid kan ervaar. Wees bewus daarvan dat My Gees vervleg is met jou wese. Dag en nag is Ek en jy in eenheid. Saam gebind as een. Lê daarom jouself neer, sodat My Gees jou kan verander na die beeld van My Seun. Onderwerp jouself meermale aan My Gees van Liefde se outoriteit. Meet alles wat jy doen, aan liefde. Laat My liefde jou 'meetstok' wees. Belei meermale jou liefdeloosheid, verharding van hart en onbewustheid van waar jy blindelings nog volhard in onkunde. Stel jouself oop vir My Gees, om jou bewus te maak van waar jy nog somtyds struikel of verkeerdelik dink oor My karakter. Laat My toe om jou gedagtes te vernuwe en in lyn te bring met My Hemelse perspektief. Lê elke opinie van jou neer, elke vooropgestelde idee, denkwyse of gevestigde gedagtepatroon wat nog altyd opmaak wie jy dink jy is, in jou eie oë. Laat My toe om jou te wys wie jy is in My oë. Laat My toe om in liefde jou denkwyse te ontvorm in die van My Seun. Laat My toe om jou te wys wie Ek jou gemaak het, (lank gelede al aanmekaar geweef het), sodat jy in die volheid daarvan kan instap en lewe as 'n NUWE MENS deur My Seun en Gees. Jy is reeds 'n NUWE MENS, geskape en verkwik deur My Gees wat skep, vernuwe en transformeer. Jy is Myne - kom en wees nou wie jy is in My oë... My kind en My seun/dogter... Amen
​
Ons is verenig - 27 Mei 2025
​
My kind, kom en verlustig jou in My Woord. Laat elke belofte van My, jou plek van veiligheid wees. Verklaar My beloftes oor jou lewe en sien elkeen uitrol in jou lewe. Jy is My kroon en sieraad. Jy is My kind, duur gekoop. Oor jou verheug Ek My. My handewerk het groot waarde. Niemand kan jou uit My Hand van Liefde wegruk nie. Wees daarom vol vrede in My liefde en aanvaarding oor jou. Moenie bekommer oor more nie - Ek is reeds daar...
​
Vul jou hart met My Woord. Bou jouself in jou gees op, deur gedurig My te ken in al jou weë. Ek begeer dat ons verhouding ryk en diep sal groei, met die kern-bewustheid dat Ek en jy EEN is, versmelt en verenig (1 Kor 6:17). Leef dus met hierdie versekering en wete dat Ek IN jou bly. Jy is My tempel (2 Kor 6:16) en Ek kies om jou My aardse woning te maak. Versorg My tempel. Vind jou vreugde daarin om My tempel te voed, versier en te versorg. Betrek My in al jou allerdaagse takies. Selfs in die klein sogenaamde "onbelangrike" werkies wat jy so gereeld verrig in en om die huis. Laat My dit saam met jou geniet. Laat My toe om jou te vergesel waar jy ook al gaan en in wat jy ook al doen. Draai net gedurig die gedagtes van jou hart na My en nooi My in jou omstandighede - jy sal my vind. Jy is Myne en Ek is joune (Hooglied 2:16). Ons is een. Laat ons eenheid bewustelik deelword en deelwees van jou allerdaagse denk- en leefwyse.
Ek het jou lief - konstant... Jou Hemelse Vader
​
Jy is 'n nuwe mens - 1 April 2025
​
My kind, bedink My Woord biddend tot dit vir jou oopgaan. Wag op diepere openbarings van wie Ek vir jou is en wil wees.
​
Jy is verenig met My. My opdrag aan jou is om IN My te lewe (Johannes 13:4). Hierdie is nie 'n opsie, of vir oorweging nie. Nee, hier gee Ek aan jou die sleutel tot 'n lewe waarin jy vrug sal dra - vrug wat sal hou en My Vader sal verheerlik. Neem My Woorde en deurdink dit. Vul jou daarmee. Laat dit jou gedagtes deurdrenk en jou gees versadig. Wanneer hierdie gebeur, snoei en vorm Ek jou volgens My Beeld. Hierdie snoeiproses mag ongemaklik wees, maar laat My toe om jou te vorm, te help en te vernuwe. Gee beheer oor aan My en vertrou My in hierdie proses. Hierdie metamorfose neem tyd, wees dus geduldig met jouself, maar bly nederig en pleibaar.
Hierdie proses vind plaas weg van die menslike oog, verborge en versteek van die geraas en gejaagde uitelike beweging. Dit is hoekom jy meermale sal begeer om alleen, eenkant en afgesonder te wees. Dis My Gees wat jou trek om Sy Meesterswerk IN jou te voltooi en te vervolmaak. Gedurende hierdie proses van snoei en vorm, sal jy gestimuleer word om vrug te begin dra. Klein lewensveranderinge sal sigbaar word as vruggies in jou allerdaagse optredes. Ek verheug My hierin, want hierdeur sien Ek jou groei, jou doelbewuste behoefte aan nuutword, asook die neerlegging van jouself. My Vader (die Boer), hou jou dop en word verheerlik wanneer jy vrug dra as gevolg van jou eenheidslewe IN en deur My. Jy sal My karakter begin weerkaats. Vader sal My begin raaksien IN jou. Hierdeur is dit ook sigbaar dat jy gekies het om My dissipel te wees.
Onthou dat hierdie hele proses waardeur jou oorgawe, neerlegging, vernuwing en eenworing met My, tyd vat. Wees geduldig met jouself in hierdie proses. Wag op My en deel met My jou hele hart in alles wat jy doen en beleef. Hierdie is waarvoor jy geskape is: om te besef dat Ek EEN is met jou en IN jou lewe. Wees konstant hiervan bewus. Ek BINNE-IN jou, gee vir jou, 'n lewe van heerlikheid deur My. Met hierdie vaste wete - beleef hoe Ek jou neem van een openbaring van heerlikheid na 'n volgende. Beoefen en dissiplineer jou lewe IN en deur My. Lewe heilig en afgesonder vir en saam met My. Jy sal 'n lewe van vrede en oorvloed ervaar - dis wat Ek vir jou in stoor het, van die begin van die grondlegging van die aarde af. Dis wat Adam verwerp het - 'n wandel, in en saam met My, maar My Seun het dit herstel. Glo My in hierdie woorde. Neem dit ernstig ter harte. Ek bedoel elke Woord. Laat dit lewe verwek in jou gees en jou lewe vernuwe. IN My is jy nuut. Lewe as 'n NUWE SKEPSEL op aarde. Heers, dien, hê lief, diep en opreg, konstant... Lewe vanuit My as Bron wat Liefde self is en jy sal vrug dra - vrugte wat sal hou. Amen en Amen!
​
Geheimenisse van die huwelik en kerk - 5 Februarie 2025
​
My kind, ek wil aan jou die diep geheimenis van die huwelik openbaar. Hier lê 'n geheim en 'n sleutel. 'n Geheim om My bruid en 'n vrou in die huwelik tot haar ware self te laat blom, asook om 'n man in sy volheid te laat heers.
​
Die twee is vervleg, My bruid en Christus en 'n man en vrou. Voor My is hulle een in gees. Die bruid is kwesbaar, behoeftig vir liefde, sorg, beskerming en sekuriteit. Die man is weer die leier, die heerser, die vegter ('worrior'), die oorsigter in outoriteit. Saam dien die een die ander in harmonie. Saam smelt die twee in eenheid wanneer die man homself neerlê in wie hy is, kruisig vir sy vrou en haar liefhet met alles in hom (Efesiërs 5). Die bruid / vrou onderwerp haarself vrywilliglik onder die man se gesag (keuse). Hier, waar byde partye nederig, vol liefde en met respek mekaar dien en eer, hier word die bruid se lippe en hart geroer, wat uitborrel in woorde van prys en eer teenoor haar man.
​
Jy sien, Ek het byde partye geskep: 'n vrou begeer om liefgehê te word en deur liefde en 'n gevoel van opoffering daarvoor, ontlok dit diepere dankbaarheid en lofprysing vanuit haar hart as uitvloeisel vir haar man. Die man aan die anderkant, benodig en begeer respek en onderdanigheid in die rol van outoriteit waarvoor Ek hom geskape het. Wanneer die man gerespekteer word in sy plek van aanstelling en outoritiet en homself so handhaaf, tesame met 'n nederige aflegging van homself teenoor sy vrou, vind die hart van 'n man sy plek in sy vrou se lofprysing tot hom. Deur hierdie gedrag van die man (liefde teenoor sy vrou en aflegging van homself), bring dit die vrou tot 'n plek van volwassenheid, volkomenheid en vervuldheid in haar volle vrou-wees in haarself. Die man begeer 'n volwasse, selfstandige vrou vir harmonie in die huwelik . In volwassenheid, besef 'n vrou haar stand in die liefde wat haar man vir haar het (sekuriteit) - sy neem dit in besit, sy eien die liefde vanaf haar man, vir haarself toe en maak dit haar eie. In hierdie proses besef sy wie sy is - sy word liefgehê met 'n onverganklike liefde van sekuriteit, opoffering, lewens-aflegging en diepe deernis teenoor haar. Lofprysing kan nou nie weerhou word nie - dus borrel dit vanuit die bruid se lippe tot haar verlosser, vriend en man. In nederigheid ontvang die man hierdie lof en veroorsaak dit 'n ewewig van wedersydse hamonie en diepe vervulling in die huweliksverhouding. Dit is My ontwerp vir die Liggaam van die kerk, geillustreer deur die man en vrou in 'n liefdes verbond van harmonie. Ek het jou geskape om in verbond met My te wees. Ons verhouding is 'n verbond van liefde - wedersydse aflegging van self, respek, liefde, lofprysing en seën. Leef daarin en neem dit in besit. Jy is Myne. Amen!
​
​​​
Draai na My - 16 Januarie 2025
​
My kind, net soos vir Joshua sê Ek vir jou vandag: wees sterk en baie vasberade IN My in alles wat jy doen. Omring jou met My Woord. Bedink dit dag en nag. Jou rooi tou van uitkoms is lofprysing aan My. Gebruik dit wanneer jou moed val en wanneer omstandighede jou wil beinvloed. Drink van My lewensap - bly IN MY geanker - jou Ware Wingerdstok van Lewe.
​
Kyk op, lig jou ken en weet waar jou krag vandaan kom. Ek alleen is God. Oorwinning behoord aan My alleen. Moenie beangs rondom jou kyk nie, maar ken My in alles wat jy doen en jy sal My vrede ervaar in jou hart en in jou gedagtes. Lê jou lewe voor My af, elke droom van jou , elke hartsbegeerte, elke doelwit wat jy wil bereik - gesels met My daaroor, want EK wil deel wees van elke 'detail' van jou lewe. Nooi My uit om jou te wys hoe intiem vervleg Ek met jou is - jy sal verwondered staan. My Gees deurgrond jou wese en staan jou by. Hy is jou krag, jou Vertroueling en jou bewerker van Vrede.
Daarom draai gedurig na My met jou hele hart en gedagtes. Ken My, want Ek wil jou help, jou op die pad lei wat Ek vir jou beplan het.
​
​
​​​​​​​​​​​​​
​
​
​
​
​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​