

2026
Boodskappe
My dierbare kind...
Tweegesprek - 31 Maart 2026
​
My kind staan vas! Staan vas in wie jy is IN My. Jou hele bestaan is geanker IN My. Besef dat Ek jou Bron is, jou Lewe en jou oorvloed. Leef in en deur My - Ek alleen is jou Krag, jou Verlosser en jou Lewe. Plaas al jou hoop en jou hele lewe in totaliteit in My Hande en gaan dan in rus. Laat gaan jou vashou en beheer, want Ek wil jou leer en jou onderrig watter pad jy moet gaan. Soos wat jy oorgee en My vertrou, sal jy 'n Stem in jou hoor wat jou rigting en leiding voorstel. Luister daarna, dis tot jou voordeel. Moenie weerstandig wees nie. Hê 'n pleibare en luisterende hart. Laat My toe om jou te lei op die pad wat Ek vir jou gereedmaak.
Selfs al gaan jy deur donker dieptes, sal Ek by jou wees. Waters sal jou nie kwaad aandoen nie. Riviere sal jou nie mee-slee nie. Ek is jou Rots, jou Veilige Vesting. Hou vas aan My, jou Betroubare Bron van Hoop.
My liefde vir jou ken geen perke nie. Oor jou verheug Ek my talle male daagliks. Jou lewe maak vir My saak. Jou hart is My plek van belang en fokus. Laat my toe om jou hart te ondersoek, want vanuit jou hart spruit jou hele lewe. Leef rein en eerbaar voor My. Reining jou hart, gedagtes, optredes en houdings. Staan voor My in eenvoud en opregtheid, want Ek weet alles van jou. Niks is vir My versteek nie. Belei, stop en verander jou gedagtes en optredes en volg My. My las is lig en my juk sag. Ek loop die pad saam met jou. Jou lewe is kosbaar in My oë...
​
My Gees is jou Metgesels, jou Hulp en jou Vriend - praat met Hom, leer Hom ken. Gaan in gesprek met Hom in jou hart. Hierdie innerlike plek van kommunikasie, sal jou kosbaarste tuiste van onskatbare waarde word. Hierdie tweegesprek tussen jou en My Gees, sal jou innerlike bron van lewe word. Hier in jou hart, waar My Gees en jy saam-gesels, hier vanaf sal Ek jou leer en lei en raadgee.
Daarom: draai jou hart na My en nooi My Gees keer op keer uit, om jou te vergesel op jou pad. Wees dan kinderlike gehoorsaam aan hoe Ek jou lei. Jy sal besef wat dit is om weer kind te word. Vry en afhanklik van my Vaderlike Stem, sorg en leiding. Jy sal weer ervaar hoe Ek, jou Pa met gesag en liefde jou beskerm en help, maar dit vat oorgawe My kind. Oorgawe van jou kant af. Ek staan gereed en wag op jou toestemming, oogawe en toenadering na My. Ek wil My oog oor jou hou en jou My pad leer stap want dit wat Ek vir jou beplan is mooi, goed en tot jou voordeel - sal jy gehoorsaam wees aan My?
​
Weet dat Ek met sorg jou respekteer en liefhet. Dat Ek lankmoedig en vol liefde op jou wag.
Ek is jou Pa, jou enigste Bron van ware hoop en jou weg tot 'n lewe in oorvloed.
Kom na My, Ek wag geduldig vir jou... jou Vader
​
Jou lewe maak vir my saak - 6 Maart 2026
​
My kind, Ek ken jou hart, hy is veilig in My hande. Ek het elke deel van jou mensewees beplan en met liefde en tyd geskep. Ek vat My tyd tydens die vorming van elke mens. Rustig en nadenkend het ek jou aanmekaargesit in die skoot van jou moeder. Terwyl die wêreld aangegaan het, het Ek in stilte, verborge en in vrede jou aanmekaargeweef. Eenkant van die wêreld se geraas en tyd, is jy beplan, oordink en uniek gevorm. Jy dra My beeld. Jy is My verteenwoordiger waar ook al jy gaan. Jy dra My outoriteit, onthou dit. Rig op en breek af in My Naam. Skep self en vernietig die bose deur My opstandingskrag wat IN jou leef. Jou waarde is hoog in My oë. Jou plek presies uitgekies deur My, in tyd en ruimte, waar jy jouself vandag bevind. Waarheen jy ook oppad is, ek is reeds besig om gebeure vir jou daar voor te berei. Waar jy was, was jy vergesel deur My. Jou lewe maak vir my saak.
Jou denke is vir My belangrik. Hê die denke van My Seun: laat Sy gedagtes joune word. Laat Sy wysheid joune oorskadu. Laat die insig en kreatiwiteit, vrede en verstaan van Jeus, My Seun se sinne (gedagtes) joune word en wees. Onderwerp jou gedagtegang aan My en laat My wil, drome en idees jou bevrug. Laat toe dat hemelse denke, jou denke inflitreer en oorskadu. Wanneer jy dink soos Ek, my kind, sal jy begin optree soos Ek. Wanneer jy kyk deur My oë en hoor deur My ore, voel met My hart en jou gees sensiteif raak vir My Gees, dan sal jy lewe deur jou geesmens en nie meer deur jou vlees meegelsee word nie.
​
Ek is jou God. Die gees/vlees-stryd is werklik. Lê af jou vleeslike en trek My natuur aan. Kies om deur My gelei te word en gehooorsaam My alleen. Wag op My - wag geduldig op My, want jou antwoord sal kom. Ek is nie 'n mens dat Ek sal jok nie, of iets beplan of sê en dit nie sal gebeur nie. Nee, Ek is God en getrou aan My Woord.
Rus in My en weet: jou uitkoms is naby.
Jy is veilig in My Hand.
Jou Abba
​
Manna uit My Woord - 17 Januarie 2026
​
My kind, jy het My gebooie - leef daarvolgens. Dit is Ek wat jou in staat stel daartoe. Laat My toe en maak My deel van jou Bybellees-ervaring en Ek sal Myself aan jou openbaar tussen die lyne van My Woord. My heerlikheid word op jou gesig weerkaats wanneer jy jou verdiep in My Volmaakte Wet.
Lig is My las en sag My jeuk. Vol is My vreugde en oneindig My liefde vir jou. Elke dag het Ek vir jou manna uit My Woord - sal jy tyd maak om stil te word saam met My, sodat Ek dit aan jou kan gee? Sal jy My soek met 'n opregte hart, keer op keeer, tot jy my vind? Volhard in jou soeke na My - in 'n kort tydjie, sal Ek My aangesig na jou draai en jou verkwik, jou salf en oplig om My te ervaar. My teenwoordigheid sal met jou saamgaan. My Gees sal jou bedien. Oral-oor sal jy bewus wees van My wanneer jy My soek en op My fokus met jou hele hart. Die wêreld sal stadig vir jou verdof. Maar hou moed, want Ek het die wêreld reeds oorwin. Glo in My. Glo ook in My werking - dit wat Ek in en deur elkeen van My kinders se lewens doen.
​
Jy is uitgekies deur My. Jy behoord aan My. Ek hou jou vas. Niks en niemand kan jou uit My Hand ruk nie. Ek is God. Ek staan alleen. Niemand kan met My vergelyk word nie. Vind jou vreugde in My en Ek sal jou gee, die begeertes van jou hart.
Ek is betroubaar.
Ek is jou Vader.
Kom na my toe...
​
Ek bring uitkoms! - 7 Januarie 2026
​
​My kind jy is veilig en Ek is nogsteeds dieselfde, vandag tot in ewigheid. Daar wemel menigte onmin en onregverdigheid regoor die wêreld - spreek My Naam, roep My aan en Ek sal uitkoms bring, verandering vanuit die Hemel. Ek alleen kan oorlog voer teen 'n horde, vir My kinders. Selfs al is jy klein en min in getal, is jy sterkter, omdat jy My gekies en aangeroep het.
​
Wag op My. Glo in My - hierin lê groot krag en uitkoms vir die wat My gehoorsaam. Moenie vergeet wie Ek is nie. My Naam is magtig oor die aarde. Vir ewig heers Ek. Jy is uitverkies deur My en nou My eiendom: waarom vrees jy? Waarom is jy bekommers? Kan Ek nie in 'n dag bo-natuurlik omstandighede verander en uitkoms bring nie? Nie deur jou eie mag en krag sal jy uitkoms ervaar nie, maar deur My Gees sal verligting kom.
Ek is die Alfa en die Omega. Ek ken jou begin en jou einde - deur jou hart by My uit te spoel en om op My te wag, sal Ek jou aanhoor, jou gebed ter harte neem en uitkoms aan jou omstandighede bring.
Wag geduldig op My en vertrou My alleen met jou lewe.
​
​
​
​
​
​
​
​
​